In die donker oggendure word 'n Christenskrywer, getroud met 'n gospelsanger, tydens 'n roof in haar huis verkrag. Haar man word met 'n rewolver teen sy ribbes ontvoer. Twee dae later getuig sy en haar man op die voorblaaie dat hulle nie kwaad is nie, maar dankbaar. Hulle uitlatings oor God en vergifnis is vreemd. Baie mense raak bitter ontsteld. Hierdie storie speel in Suid-Afrika af - in 'n land wat berug is vir misdaad en rassehaat, waarin baie mense God vir hulle eie volk, hulle eie saak en hulle eie welvaart toe-eien. Hulle storie krap oor baie mense se harte soos 'n nael skril-fluitend oor 'n swartbord krap. Waarheen gaan mense met die vrae en ontsteltenis wat hulle verhaal ontketen? Waar was God? Waarom gebeur dit juis met hulle? Hoe kan hulle beweer dat hulle geen permanente skade opgedoen het nie?